It is currently 27 Jul 2017, 22:41

Zuid-Afrika in de Eerste Wereldoorlog.

Moderator: Francesco Baracca

Zuid-Afrika in de Eerste Wereldoorlog.

Postby Francesco Baracca » 05 Oct 2009, 20:11

Aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog

Op 28 Junie 1914 word die Oostenrykse kroonprins, aartshertog Franz Ferdinand in Sarajevo (Bosnië) vermoor. Dit lei tot Oostenryk se oorlogsverklaring teen Serwië op 28 Julie 1914. In die bestek van slegs een week het hierdie regionale geskil in die Balkans die groot moondhede in een van die grootste konflikte in die mensdom se geskiedenis gedompel.

Duitsland het vroeg in Augustus 1914 oorlog teen Rusland en Frankryk verklaar. Hierna het Duitsland België as deurgangsroete gebruik om Frankryk aan te val wat Brittanje gedwing het om in te gryp. Sy ultimatum aan Duitsland op 4 Augustus om België se neutraliteit te eerbiedig, is geïgnoreer en daarmee het Brittanje en sy bondgenote tot die oorlog toegetree.

Suid-Afrika se toetrede

Brittanje se besluit om tot die oorlog toe te tree, het die UVM voor die eerste ernstige krisis in sy geskiedenis te staan gebring. As 'n Britse Dominium was Suid-Afrika feitlik outomaties in 'n staat van oorlog. Die Unie sou wel self kon besluit oor die aard en omvang van sy deelname aan die oorlog.

Die Britse troepe in Suid-Afrika is dringend aan die front in Europa benodig. Brittanje het derhalwe op 6 Augustus die Suid-Afrikaanse regering se aanbod om die Britse garnisoen se verpligtinge in die Unie oor te neem aanvaar, maar terselfdertyd versoek dat die Unie Swakopmund en Lüderitzbucht beset en radiostasies aldaar oorneem. Die Kabinet het op 10 Augustus besluit om aan Brittanje se versoek te voldoen.

Intussen is daar voortgegaan met voorbereidings vir die veldtog. Op 18 Augustus 1914 is 'n proklamasie uitgevaardig ingevolge waarvan gedeeltes van die UVM vir aktiewe diens opgeroep kon word. Kort hierna is Lukin se A Mag by Kaapstad ingeskeep van waar dit na Port Nolloth vertrek het. Die eerste kontingent van hierdie mag het reeds op 1 September by Port Nolloth aan wal gegaan waar Lukin die res van sy mag versamel en vir sy finale opdragte gewag het.

Tydens die Parlement se spesiale sitting op 9 September, is 'n mosie ten gunste van militêre optrede teen Duits-Suidwes-Afrika met 'n meerderheid van 79 stemme aanvaar. Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog was nou 'n voldonge feit.

Rebellie

Nog voordat die inval van Duits-Suidwes-Afrika op dreef kon kom, het die Rebellie uitgebreek. Die regering se besluit om militêr tot die stryd toe te tree en Duits-Suidwes-Afrika in besit te neem, was 'n onmiddellike oorsaak van die gewapende opstand in die Unie. 'n Aantal leiers, onder andere genls C.R. de Wet, J.C.G. Kemp en J.H.de la Rey, wat sedert die middel van Augustus by verskillende geleenthede beraadslag het oor gewapende protes, het besluit om die wapen op te neem. Inmiddels het lt kol S.G. Maritz - die aangewese aanvoerder B Mag - met die Duitse owerheid in Duits-Suidwes-Afrika oor militêre samewerking onderhandel. Die leiers van die opstand sou op 16 September 1914 op Potchefstroom saamtrek om hul plan in werking te stel.

Die Rebellie is egter byna verongeluk deur die dood van genl De la Rey op die aand van 15 September 1914 - hy is per ongeluk deur die polisie by Langlaagte naby Johannesburg doodgeskiet toe sy motor deur 'n padversperring gejaag het. Die leiers van die gewapende opstand het egter besluit om met die Rebellie voort te gaan. Die Eerste Minister, genl Louis Botha, het op by verskillende geleenthede die versekering gegee dat slegs vrywilligers vir die inval gebruik sou word. Desondanks het genl Smuts lt kol Maritz op 23 September opdrag gegee om met sy mag van meer as 1 000 man - wat beslis nie net uit vrywilligers bestaan het nie - na die grens op te ruk.

Maritz het Smuts in kennis gestel dat hy nie bereid was om die grens oor te steek nie en sy bedanking aangebied, dog dit is van die hand gewys. Hierna is Maritz beveel om bevel aan maj B.G.L. Enslin te oorhandig, wat hy ook geweier het om te doen. Maritz het wel op 2 Oktober die grootste gedeelte van sy mag vanaf Upington na Van Rooisvel verskuif wat ietwat nader aan die grens was. Op 9 Oktober het hy die grens na Duits-Suidwes-Afrika oorgesteek en by die vyandelike Duitse magte aangesluit. Twee dae later het die Regering krygswet afgekondig en troepe opgekommandeer om die dreigende gewapende opstand te onderdruk.

Intussen het die rebelle in die Unie ook tot aksie oorgegaan. Brig genl C.F. Beyers - wat in September reeds uit sy pos as kommandant-generaal van die ABM bedank het - het in die Magaliesberg 'n mag versamel. In die Oranje-Vrystaat het baie opgekommandeerde burgers by genl De Wet se rebelle aangesluit. In die laaste week van Oktober het De Wet se rebelle beheer oor dorpe in die Noordoos-Vrystaat verkry, maar in Transvaal is Beyers se kommando op 27 Oktober by Commissiedrift deur 'n sterk regeringsmag aangeval en uiteen gejaag.

Genl De Wet se kommando het op 7 November by Sandrivier met die regeringsmagte gebots waar sy seun dood is. Hierna het De Wet Winburg beset, wat genl Louis Botha genoop het om persoonlik bevel van die regeringsmagte oor te neem. Hy het op 11 November tydens 'n skermutseling op die plaas Mushroom Valley suidoos van Winburg die rebelle 'n nederlaag toegedien, maar De Wet het daarin geslaag om te ontsnap. Hy is egter meedoënloos agtervolg tot op die plaas Waterbury (Vryburg) waar hy op 1 Desember moes oorgee.

Slegs een week ná De Wet se oorgawe het die oorblywende rebellegroepe onder Wessel Wessels, Niklaas Serfontein en Dawid van Coller in die Oranje-Vrystaat die wapen neergelê. Daarmee is die Rebellie in die Vrystaat effektief beëindig.

In Transvaal was verskillende rebelle bedrywig. Benewens genl Beyers, het veral twee ander groepe opgetree. Die groep wat oos van Pretoria bedrywig was, is deur genl C.H. Muller aangevoer terwyl kmdt Jopie Fourie en maj J.J. Pienaar noord van Pretoria besonder aktief was. Ná hewige gevegte in die eerste week van November 1914 is genl Muller se magte verslaan terwyl hyself gewond en gevange geneem is.

Vir genl Beyers se kommando het die Rebellie ook rampspoedig verloop. Op 8 Desember word Beyers op die plaas Greyling's Request teen die Vaalrivier naby Makwassie vasgekeer en toe hy die rivier te perd probeer oorsteek, verdwyn hy onder die water. Daar was geen koeëlwonde aan sy lyk nie wat die vermoede laat ontstaan het dat hy aan 'n hartaanval beswyk het.

Een week ná Beyers se dood het die oorblywende rebellemagte van kmdt Jopie Fourie en maj Pienaar op die plaas Nooitgedacht met 'n sterk regeringsmag onder lt kols N.J. Pretorius en H.F. Trew slaags geraak. Die rebelle word verslaan en Fourie gevange geneem. Maj Pienaar slaag daarin om te ontsnap, maar hy word binne enkele dae aangekeer. In Transvaal was die Rebellie iets van die verlede.

Intussen was genl Kemp besig met 'n epiese mars vanaf Schweizer-Reneke in Wes-Transvaal na Duits-Suidwes-Afrika. Onderweg was hy in verskeie skermutselings met die regeringsmagte betrokke en op 25 November is hy by Rooidam deur 'n sterk mag onder kol B.D. Bouwer omsingel. Gedurende die nag het hy egter deur die vyandelike kordon geglip en drie dae later Maritz by Nakob ontmoet.

Op 21 Desember het Kemp en Maritz 'n geslaagde aanval op Nous van stapel gestuur en 282 regeringstroepe gevange geneem. Hulle het dit in Januarie 1915 opgevolg met 'n verdere oorwinning by Lutzputs, maar hier moes hul verneem dat die Rebellie in die Unie onderdruk is. Op 23 Januarie het die rebelle na Upington opgeruk waar 'n sterk regeringmag onder genl Van Deventer hul ingewag het. Kemp en Maritz het op 24 Januarie tot die aanval oorgegaan, maar het swaar verliese gely en moes die aftog blaas. Onderhandelinge tussen genl Van Deventer en die twee rebelleleiers het uiteindelik gelei tot die oorgawe van Kemp en Maritz se kommando's op 2 Februarie. Maritz het egter na Windhoek en van daar na Angola uitgewyk.

Na raming het tussen 11 000 en 12 000 rebelle die wapen opgeneem. Die Regeringsmagte het op sowat 32 000 man te staan gekom, van wie ongeveer 25 000 lede van die sogenaamde "kommando's" was. Die res het uit ongeveer

5 000 Aktiewe Burgermaglede en 2 000 Staandemagtroepe bestaan. Sover vasgestel kan word, was die verliese aan rebellekant 190 dood en 350 gewond terwyl die Regeringsmagte se verliese 132 dood en 242 gewond beloop het.

Die Veldtog in Duits-Suidwes-Afrika

Suid-Afrikaanse vrywilligereenhede het gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914 - 1918) aan verskillende oorlogsfronte geveg. Soos reeds vermeld, was die eerste hiervan Duits-Suidwes-Afrika.

Die Suid-Afrikaanse ekspedisiemag se eerste oogmerk was die besetting van Lüderitzbucht. Ooreenkomstig die aanvalsplan wat op 21 Augustus opgestel was, is die ekspedisiemag van sowat 5 000 man in drie magte onderverdeel, nl A Mag onder brig genl H.T Lukin (Port Nolloth), B Mag onder die reeds vermelde lt kol Maritz te Upington en C Mag (Lüderitzbucht), aangevoer deur kol S.P. Beves. Lukin se mag het reeds sy bestemming by Port Nolloth bereik, terwyl laasgenoemde se mag op 15 September per skip vanaf Kaapstad na Lüderitzbucht vertrek het. Beves het sy bestemming drie dae later bereik waar die vyand feitlik geen weerstand gebied het nie.

Intussen het brig genl Lukin sy hoofkwartier by Steinkopf ingerig en sy mag langs die spoorlynverbinding met Port Nolloth ontplooi. Sy mag was reeds in beheer van Raman's Drift en die hoë terrein by Houms Drift. Op hierdie tydstip het lt kol Maritz gerebelleer wat Beves se mag by Lüderitzbucht in gevaar gestel het. Hierdie skielike wending het Lukin verplig om enige moontlike vyandelike druk op Beves se mag te verlig.

'n Duitse mag onder kol Von Heydenbreck het op 26 September 'n afdeling van Lukin se mag by Sandfontein aangeval en verslaan. Op dieselfde dag het ligte skermutselings in die omgewing van Lüderitzbucht plaasgevind, onder meer by Grasplatz waar die Suid-Afrikaanse mag 'n Duitse voorpos verras en 30 man krygsgevange geneem het. Die Rebellie het die beplande inval in Duits-Suidwes-Afrika egter vertraag en die veldtog kon eers in Januarie 1915 hervat word.

Nadat die Rebellie in die Unie onderdruk is, het genl Louis Botha besluit om Walvisbaai en Swakopmund as basisse te gebruik vir 'n aanmars op Windhoek. 'n Mag onder kol P.C.B. Skinner is na Walvisbaai gestuur waar dit op 25 Desember 1914 sonder enige vyandelike weerstand aan wal gegaan het. Swakopmund is enkele dae later deur 3 SA Infanteriebrigade onder aanvoering van kol Burnside beset.

Genl Louis Botha het met 'n berede mag onder sy bevel op 6 Februarie na die gevegsfront vertrek en vyf dae later Swakopmund bereik. Teen hierdie tyd was die Suid-Afrikaanse ekspedisiemag in vier magte ontplooi, nl 'n Noordelike Mag onder genl Botha, 'n Suidelike Mag onder bevel van kol sir J. L. van Deventer, 'n Oostelike Mag onder aanvoering van kol C.A.L. Berrangé en 'n Sentrale Mag onder brig genl sir Duncan McKenzie.

Volgens die aanvalsplan sou Botha se Noordelike Mag na Windhoek opruk. Tydens sy opmars het hy op 20 Maart met die Duitse magte by Pforte, Jakkalswater en Riet slaags geraak. Hoewel die Duitse magte moes terugval, is Botha se berede mag as gevolg van 'n skaarste aan water en weiding gedwing om op 24 Maart na Swakopmund terug te keer. Botha het op 27 Maart per skip na Lüderitzbucht vertrek en twee dae later by brig genl McKenzie aangesluit. In opdrag van Botha het McKenzie se Sentrale Mag hierna na Aus opgeruk wat intussen reeds deur die Duitse magte ontruim is. McKenzie het die dorp op 1 April beset en voorbereidings getref vir die moeilike tog na Gibeon. Met een artillerie-battery en drie berede brigades onder sy bevel, het Mckenzie Aus op 16 April verlaat en ná 'n mars van 162 myl (260 kilometer) berig ontvang dat 'n Duitse mag onder maj Von Kleist hom by Gibeon-stasie bevind het. Ná hewige gevegte op 27 April het die Duitse mag teruggeval terwyl McKenzie by Gibeon hergroepeer het. Laasgenoemde se berede mag het nie verder aan die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika deelgeneem nie en is in groepe noordwaarts na Windhoek gestuur van waar hulle na die Unie teruggekeer het.

Slegs een dag voor die gevegte by Gibeon in die suide, is afdelings van die Noordelike Mag by Trekkoppies aangeval waar hulle besig was met konstruksiewerk aan die spoorlyn na Karibib. Die aanval is egter met geringe verliese aan beide kante afgeslaan.

Die Suidelike Mag het vanaf Upington na Keetmanshoop opgeruk waar 'n Duitse mag onder maj Von Ritter gestasioneer was. In hierdie stadium het genl Kemp en lt kol Maritz, wat na die vyand oorgeloop het, 'n kontingent van die Uniemagte by Nydasputs op 18 Januarie aangeval en verdryf. Kemp en Maritz is ses dae later by Upington egter 'n verpletterende nederlaag deur brig genl J.L. van Deventer toegedien waarna Kemp oorgegee het. Op 8 Maart het die Suidelike Mag 'n Duitse afdeling by Nabas aangeval en verslaan. Dit is opgevolg deur verdere oorwinnings by Platbeen en Kubas. Teen hierdie tyd het die Suidelike Mag met die Oostelike Mag kontak gemaak wat tot die oorgawe van Keetmanshoop gelei het.

In sy westelike aanmars het die Oostelike Mag ook by verskillende geleenthede met die vyand slaags geraak. Op 19 Maart is die Duitse magte by Rietfontein aangeval en verdryf en op 5 April is dit deur verdere oorwinnings opgevolg by Koes en Kiries West.

Teen die einde van April 1915 was Botha gereed vir 'n tweede aanslag op die Duitse magte in die noorde van Duits-Suidwes-Afrika. Vir hierdie doel het hy sy mag in twee onderverdeel, nl 'n mag van twee brigades onder brig genl C.J. Brits en een onder die bevel van brig genl W.M. Myburgh. Laasgenoemde is opdrag gegee om na Tsaobis op te ruk terwyl Brits Kubas as teiken gehad het. Hierdie maneuvers moes uitgevoer word ter voorbereiding van 'n offensief teen die vyandelike magte suid van Karibib. Myburgh het sy snelle aanmars op 28 April begin en 36 uur later Otjimbingwe bereik. Hiervandaan is hy weswaarts in die rigting van Karibib gestuur. Op 2 Mei het genl Botha by Potmine berig ontvang dat een van Brits se vooruitgeskowe afdelings Kubas bereik het wat reeds deur die vyand ontruim is. Die volgende dag het kol H.S. Mentz berig dat die Duitse magte vanaf Karibib na die noorde uitgewyk het. Botha het Karibib op 6 Mei sonder veel weerstand bereik.

Op hierdie tydstip was die Uniemagte se voorrade feitlik uitgeput en Botha moes enige verdere optrede ses weke uitstel. Op 11 Mei is Windhoek beset waardeur die eerste fase van die veldtog beëindig is. 'n Tweede fase was egter nodig om die Duitse magte wat nog in die veld was, tot oorgawe te dwing. Die finale offensief is deur vyf taakmagte onder Brits, Lukin, Beves, Myburgh en Manie Botha op 18 Junie van stapel gestuur. Die aanmars het op alle fronte vlot verloop en Omaruru is binne een dag bereik. Beves het sy opdrag om Epako teen dagbreek op 21 Junie te beset, suksesvol uitgevoer danksy 'n moordende snelmars van 200 myl (320 kilometer).

Op 27 Junie het Brits opdrag ontvang om eers na Outjo en vervolgens na Okakuejo en Namutoni ten ooste van die Etoshapan op te ruk. 'n Berig wat op 28 Junie ontvang is, het egter aangedui dat die Duitse magte by Otavi en Otavifontein saamgetrek was. Dit was ook bekend dat die vyand by Elefantenberg oos van die spoorlyn na Tsumeb ingegrawe was.

Botha het besluit om die Duitse stellings by Elefantenberg op 1 Julie aan te val met die 5de en 6de Berede Brigade op sy regter- en linkerflank onderskeidelik. Die 5de Berede Brigade onder brig genl H.W.N. (Manie) Botha het op die aand van 30 Junie 'n geslaagde verrassingsaanval geloods en die vyandelike stellings ingeneem. Hierna is die vyand se westelike flank aangeval waarna die vyand na die westelike kant van die Otavi-bergreeks en Khorab-heuwels teruggeval het. Hier het die finale oorgawe agt dae later plaasgevind.

Op 4 Julie het die Duitse goewerneur, dr Theodor Seitz, genl Louis Botha verwittig dat hy oor die staking van vyandelikhede wou onderhandel. Tydens 'n ontmoeting die volgende dag by Kilo 500 op die spoorlyn, is oor 'n lokale skietstaking ooreengekom. Die Duitse magte se formele oorgawe het op 9 Julie gevolg.

Tydens die veldtog is 311 lede van die Uniemagte gewond terwyl 266 lede omgekom het. Van laasgenoemde het 88 tydens operasionele optrede gesterf en 25 aan hul wonde beswyk, 97 is aan siektes oorlede en 56 het in ongelukke omgekom. Sowat 4 740 Duitse soldate is òf krygsgevange geneem òf het hul in die laaste fase van die veldtog oorgegee.

Die Veldtog in Duits-Oos-Afrika

Ná die Duitse oorgawe in Suidwes-Afrika in Julie 1915, is 'n leërbrigade bestaande uit vrywilligers na Duits-Oos-Afrika gestuur waar die Britse magte sterk weerstand van die Duitse magte onder generaal Paul Von Lettow-Vorbeck ondervind het. Teen die einde van Maart 1916 is reeds een berede brigade van drie regimente, een losstaande berede regiment en twee brigades infanterie (vier bataljons elk) na die gevegsfront gestuur. Hulle is ondersteun deur vyf batterye artillerie, 'n veldambulans en 'n algemene hospitaal.

In teenstelling met Duits-Suidwes-Afrika, was militêre optredes in gebiede soos Oos-Afrika en Europa vir die Unieregering uiters problematies. Ingevolge die Verdedigingswet kon eenhede van die UVM slegs binne die landsgrense en in aangrensende state aangewend word. Derhalwe is Algemene Order 672 (1915) uitgevaardig wat bepaal het dat die Suid-Afrikaanse ekspedisiemagte as deel van die imperiale magte na die buiteland gestuur sou word. Die Suid-Afrikaanse kontingent van sowat 20 000 man wat na Duits-Oos-Afrika gestuur is, het gevolglik deel uitgemaak van die Britse imperiale magte. Dieselfde geld ook die Suid-Afrikaanse kontingente wat aan die fronte in Noord-Afrika, die Midde-Ooste en Europa geveg het.

Die veldtog in Duits-Oos-Afrika het uit drie fases bestaan. In die eerste fase - vanaf die uitbreek van die oorlog in 1914 tot aan die einde van 1915 - is die Britse magte in Oos-Afrika deur ernstige terugslae getref, insluitende 'n verpletterende nederlaag by Tanga in November 1914. Hierdie terugslae het die Britse magte gedwing om tot die verdediging oor te gaan terwyl daar op versterkings gewag is. In hierdie fase was die Unie se betrokkenheid beperk tot die stuur van 'n afdeling Suid-Afrikaanse soldate na Njassaland waar hulle onder brig genl E. Northey gedien het. Talle Suid-Afrikaanse soldate het egter die slagoffers geword van tropiese siektes en moes na die Unie teruggestuur word. Die tweede fase het die grootste gedeelte van 1916 in beslag geneem. In Maart 1916 was daar reeds 'n groot Suid-Afrikaanse kontingent van sowat 18 700 man in Kenia. In die volgende maande het die Geallieerde magte onder genl J.C. Smuts 'n groot gedeelte van Duits-Oos-Afrika beset.

Die eerste belangrike operasionele optrede waarin Suid-Afrikaanse infanterie-eenhede gedurende hierdie fase 'n leidende rol gespeel het, was die gevegte by Salaita Hill in Februarie 1916. Tydens hierdie gevegte het 2 South African Infantry Brigade onder brig genl S.P. Beves 'n mislukte aanval op Von Lettow-Vorbeck se magte by Salaita geloods. Kort hierna het genl Smuts die bevel in Oos-Afrika oorgeneem en voorbereidings getref om die Kilimandjaro-gebied te beset. Die aanvalsplan sou eerstens bestaan uit 'n aanval deur brig genl W. Malleson se gemengde divisie in die rigting van Taveta. Voorts sou die berede brigade van genl maj J.L. van Deventer, bygestaan deur dié van brig genl Berrangé, 'n noordwaartse omsingelingsmaneuver uitvoer in die rigting van die Chala-meer.

Berrangé het die suidoostelike punt van die Chala-meer op 9 Maart 1916 beset. Hierna het Van Deventer en Berrangé na Moschi opgeruk. Op 11 Maart het 2 East African Division onder Malleson 'n mislukte aanval op die Latema- en Reata-heuwel wes van Taventa geloods. Hierop het Smuts eers 5 South African Infantry Regiment onder lt kol Byron en vervolgens 7 South African Infantry Regiment onder lt kol Freeth van die Reserwemag beveel om 2 East African Division te ondersteun. Ná twee verdere mislukte aanvalle waartydens die Geallieerdes swaar verliese toegedien is, het die Duitse magte teruggetrek. Dit het die Geallieerdes in staat gestel om die heuwels te beset.

Hierna het Smuts sy aanmars suidwaarts na die Ruwurivier voortgesit waar Von Lettow-Vorbeck nuwe stellings ingeneem het. Elemente van 2 East African Division onder brig genl S.H. Sheppard, ondersteun deur 5, 6 en 8 South African Infantry Regiment, is opdrag gegee om na Kahhe op te ruk. Van Deventer se berede brigade (1 South African Mounted Brigade) moes Kahhe vanuit die weste inneem. Tydens 'n geveg op 21 Maart is Sheppard ten noorde van Kahe gestuit, maar Van Deventer het die dorp vanuit die weste ingeneem. Dit het Sheppard die geleentheid gebied om tot by die Ruwurivier op te ruk waar egter vasgestel is dat Von Lettow-Vorbeck nogmaals na die suide teruggeval en hom by Lembeni ingegrawe het. Smuts het nou voortgegaan om die Kilimandjaro-Meru-gebied te beset.

Met die aanbreek van die reënseisoen het die Geallieerde magte tydelik tot die verdediging oorgegaan. Smuts het die verposing gebruik om sy magte te reorganiseer. Genl maj Van Deventer is aangestel as bevelvoerder van 2 South African Division wat bestaan het uit 1 South African Mounted Brigade onder brig genl Manie Botha en 3 South African Infantry Brigade onder brig genl Berrangé. Verder was 2 South African Infantry Brigade onder brig genl Beves by Himo gestasioneer waar dit later deel van 3 South African Division onder genl maj Brits sou word.

Van Deventer het Aruscha op 3 April verlaat en suidwaarts na Kondoa Irangi opgeruk. Ná 'n hewige geveg by Lolkissale, is 400 van die vyand op 7 April krygsgevange geneem. Ufiome is op 13 April beset en ná verdere hewige gevegte, waartydens die vyand swaar verliese toegedien is, het Van Deventer Kondoa Irangi ingeneem. Hier het sy aanmars tot stilstand geruk omdat feitlik al sy perde en muile reeds òf vrek òf siek was. In hierdie stadium het Von Lettow-Vorbeck 'n groot mag van 4 000 man versamel en Van Deventer se divisie van 3 000 man op 9 Mei aangeval. Die twee Suid-Afrikaanse infanteriebataljons het verskeie stormlope met gemak afgeslaan en die vyand swaar verliese toegedien. Hierna is 7 en 8 South African Infantry Regiment na Kondoa Irangi gestuur om 2 South African Division te versterk.

Intussen het Smuts ook suidwaarts beweeg. Sy mag is onderverdeel in westelike, sentrale en oostelike kolonne wat hoofsaaklik uit koloniale troepe bestaan het. Smuts se aanmars het betreklik ongehinderd verloop totdat Buiko bereik is. Hier moes Smuts as gevolg van logistieke probleme 'n week vertoef waarna die aanmars voortgesit is. Op 15 Junie is berig ontvang dat 'n sterk Duitse mag onder maj Kraut by Handeni ingegrawe was. Omdat maj Kraut gevrees het dat die Geallieerdes hom sou omsingel en afsny, het hy egter suidwaarts uitgewyk. Gevolglik kon die Geallieerde mag onder Sheppard Handeni op 18 Junie beset.

Pogings om met maj Kraut se hoofmag kontak te maak, was nie geslaagd nie en slegs enkele skermutselinge met sy agterhoede het voorgekom. Die Geallieerdes kon dus weer eens nie daarin slaag om 'n groot deel van die Duitse magte te omsingel en tot oorgawe te dwing nie. Ná maj Kraut se noue ontkoming, het Von Lettow-Vorbeck afgesien van sy voorneme om Van Deventer se mag aan te val. Hy het gevolglik met die grootste gedeelte van sy mag weggetrek en hom by maj Kraut gevoeg om die bedreiging wat Smuts ingehou het, die hoof te bied.

Op 20 Junie het 5 South African Infantry Regiment onder lt kol Byron opdrag gekry om vanaf Pongwe na Kangata op te ruk en met die vyand kontak te maak. Op dieselfde dag nog beland 5 South African Infantry Regiment egter in 'n hinderlaag waartydens twee vyandelike kompanies vanuit versteekte stellings hewige vuur op Byron se 400 skutters afbring. In sowat anderhalfuur het Byron 'n kwart van sy mag verloor terwyl die vyand se verliese op een dood en agt gewond te staan gekom het.

Op 24 Junie het Sheppard wel daarin geslaag om met die vyand se hoofmag by die Lukigurarivier kontak te maak. In 'n hewige geveg word die vyand aan drie fronte aangeval en swaar verliese toegedien. Die Duitse mag het in wanorde teruggeval en 34 gesneuweldes en 53 krygsgevangenes agtergelaat.

Ondanks heelwat logistieke probleme, het Smuts sy mag vervolgens op 'n moordende mars gestuur wat 250 myl (400 kilometer) verder op 25 Junie by Msiha-kamp geëindig het. Gedurende die kort verposing ná hierdie uitputtende aanmars, het Von Lettow-Vorbeck begin om aanvalle op die kommunikasieverbindings van Smuts se oostelike magte te loods. Hierdie aanvalle het egter geen noemenswaardige uitwerking op Smuts se aanmars gehad nie en Von Lettow-Vorbeck moes noodgedwonge in 'n suidwestelike rigting na Iringa terugval.

Op 19 Julie het 3 South African Division onder Van Deventer genoegsaam herstel om sy suidelike aanmars te hervat. Ná lang marse en 'n aantal skermutselinge met die vyand se agterhoede, het die Divisie in die tweede helfte van Julie die sentrale spoorlyn tussen Morogoro en Tabora bereik.

Smuts se oostelike mag het op 5 Augustus sy aanmars na die sentrale spoorlyn deur die Ngurua-berge hervat wat deur 'n Duitse mag van sowat 3 000 man met swaar en ligte grofgeskut beset was. Smuts se basiese plan was om tydens sy suidwaartse beweging wye omvleuelingsmaneuvers te gebruik ten einde die vyand af te sny of hom te dwing om terug te val. Tydens gevegte op 10 Augustus by Matamondo, is die Duitse magte se regterflank teruggedryf, maar 3 South African Division se vordering is weer eens by Mhonda vertraag wat die Duitse hoofmag by Ruhungu in staat gestel het om na die suide te ontsnap. Op 15 Augustus is die Duitse magte se stellings by Kwedihombo aangeval en ingeneem en twee dae later is weer kontak gemaak met die vyand se agterhoede by Dakawa op die suidelike oewer van die Wamirivier. Ná 'n onbesliste skermutseling, het die Duitsers egter vir die soveelste maal teruggetrek.

Intussen het Van Deventer se westelike mag ooswaarts na Kilossa opgeruk in 'n poging om Von Lettow-Vorbeck af te sny. Dodomo is op 31 Julie beset waarna kontak met die vyand verloor is. Die vyand is eers op 10 Augustus by Chunya opgespoor waar 'n vertragingsmag hom ingegrawe het. Tydens 'n geslaagde aanval is die vyand verdryf en kontak is eers die volgende dag by Mpapula bewerkstellig. Ná 'n frontale aanval het die vyand nogmaals onttrek en op 16 Augustus is 'n vyandelike stelling by Kidete aangeval waar 10 South African Infantry Regiment swaar verliese gely het.

Op 19 Augustus het 3 South African Brigade onder Berrangé die hoogtes om Msagara sonder enige weerstand beset, dog op 21 Augustus is die brigade naby Kilossa tydelik deur die akkurate vuur van 'n Duitse mag onder maj Kraut gestuit. 'n Omvleuelingsmaneuver deur twee berede afdelings het maj Kraut egter gedwing om na die suide uit te wyk wat die Suid-Afrikaanse magte uitgeput by Kilossa agtergelaat het.

Smuts het vervolgens gepoog om die vyand in Morogoro af te sny deur twee magte onder brig genls A.H.M. Nussey en B.G.L. Enslin vanaf die weste en ooste onderskeidelik. Die vyand het egter daarin geslaag om weg te glip en Morogoro is op 26 Augustus sonder enige weerstand ingeneem.

Van Deventer het Kidodi op 6 September bereik. Reën en siektes soos pokkies en swartwaterkoors het logistieke en mediese probleme vir Smuts se magte geskep en die agtervolging van Von Lettow-Vorbeck ernstig in die wiele gery.

Dar-es-Salaam is op 4 September sonder slag of skoot deur 'n gesamentlike mag beset wat onder meer 'n afdeling van 300 Suid-Afrikaanse infanteriste ingesluit het. Smuts het vervolgens sy voorraadbasis vanaf Moschi na Dar-es-Salaam verskuif.

Inmiddels was 'n mag van 1 200 man onder Brits naby Kissaki ontplooi waar dit teenoor Von Lettow-Vorbeck met sowat 2 500 man en 30 masjiengewere te staan gekom het. Op 7 September het Brits Beves met 5 South African Infantry Regiment en 6 South African Infantry Regiment onder sy bevel vanaf die noorde oor 'n wye front in die rigting van Kissaki ingestuur. Beves se aanmars is egter naby Kissaki deur vier Duitse masjiengeweerkompanies versper en hy het besluit om hom in te grawe en tot die volgende dag te wag. Beves het gedurende die nag 'n vyandelike aanval afgeslaan waarna hy beveel is om te onttrek. Enslin se berede infanterie, wat vanuit 'n westelike rigting die Kissaki-Iringia lyn moes sny, het ook sterk teenstand ondervind - dit is deur 'n vyandelike oormag gestuit en het in wanorde teruggeval.

Nussey se berede brigade het 'n suidelike roete gevolg en Kissaki op 8 September bereik. Ofskoon die brigade voor 'n oormag te staan gekom het, het dit gedurende die dag vyf verbete aanvalle afgeslaan en boonop 'n geslaagde teenaanval geloods. Nussey het egter besluit om vanweë die sterk vyandelike mag voor hom onder die dekking van die nag te onttrek. Dit het daartoe gelei dat die drie Suid-Afrikaanse brigades onttrek het en die vyand was dus steeds in beheer van die roete na Kissaki. Hierna is Brits beveel om weer eens na Kissaki op te ruk. Op 14 September het sy verkenners egter vasgestel dat die vyand weer eens onttrek het. Die volgende dag het 5 en 6 South African Infantry Regiment Kissaki beset.

Von Lettow-Vorbeck se hoofmag was nou ten ooste van Kissaki op die suidelike oewer van die Mgetarivier saamgetrek. Smuts het Brits beveel om die Mgetarivier oor te steek en die vyand se linkerflank aan te val. Die Suid-Afrikaanse brigade - bestaande uit 5 en 6 South African Infantry Regiment - was egter te uitgeput om veel meer te doen as om die rivier oor te steek, hom in te grawe en 'n teenaanval af te slaan.

Op hierdie tydstip was brig genl sir C. Crewe se mag tesame met 'n Belgiese kontingent onder genl Tombeur wat vanuit die noordooste inbeweeg het, in besit van Tabora. Die aanmars van hierdie Anglo-Belgiese mag het die Duitsers onder genl Wahle genoop om terug te trek. 'n Mag onder Northey wat Iringa beset het, het onder andere 'n element van die Zuid-Afrikaansche Bereden Schutters ingesluit. Van Deventer het hom steeds by Kidodi bevind terwyl Brits by Kissaki, brig genl Sheppard by Morogoro en genl maj Hoskins by Mkessas saamgetrek was.

Wahle se terugtrekkende mag het 'n bedreiging vir Northey ingehou. Smuts het derhalwe besluit om versterkings te stuur en 5, 7 en 8 South African Infantry Regiment is gevolglik getaak om Northey te ondersteun. 'n Patrollie van die Zuid-Afrikaansche Bereden Schutters het op 12 Oktober ten weste van Iringa met Wahle se mag slaags geraak en die vyand teruggedryf. 7 South African Infantry Regiment, wat Inringa op 23 Oktober bereik het, is op 29 Oktober saam met een van Northey se kolonne aangeval, dog het hul posisie behou. Op 1 November is vasgestel dat Wahle teruggetrek het. Wahle het teen die einde van November 1916 daarin geslaag om Von Lettow-Vorbeck in die suidoostelike hoek van Duits-Oos-Afrika te bereik. Gedurende November is Van Deventer na Iringa gestuur waar hy in bevel geplaas is van alle operasies teen Wahle in daardie gebied. Dit het Northey in staat gestel om al sy magte verder suid by Njombe, Lupembe en Songea te konsentreer.

In die laaste twee maande van 1916 is 12 000 Suid-Afrikaners na die Unie teruggestuur wat 'n herorganisasie van die oorblywende formasies genoodsaak het. Onder meer het 1 SA Berede Brigade sy berede status as gevolg van die verlies van al sy perde verloor. Verder is 3 South African Division (Brits) en 2 South African Mounted Brigade (Enslin) ontbind en hul bevelvoerders het na die Unie teruggekeer. Beves se 2 South African Infantry Brigade wat nou uit 6 South African Infantry Regiment en die Cape Corps Battalion bestaan het, het weer 'n reserwemag geword. 3 South African Infantry Brigade (Berrangé) en 'n gedeelte van 2 South African Division (Van Deventer) is as 10 South African Infantry Regiment hersaamgestel.

Op 24 Desember 1916 het Van Deventer en Northey se magte teen die vyand opgeruk met die doel om sy ontsnappingsroetes na die suidweste af te sny. Een week later het Smuts se magte afgestuur op Kibambwe teenaan die Rufijirivier, terwyl 6 South African Infantry Regiment onder Beves wes van die hoofmag na die rivier opgeruk het. Op 3 Januarie 1917 het Beves die Rufijirivier bereik en dit oorgesteek. Sheppard het die Rufijirivier twee dae later bereik en op 7 Januarie het Beves Mkalinso beset. In hierdie stadium het die logistieke situasie en siektes Smuts weer eens verhoed om die veldtog in Duits-Oos-Afrika suksesvol af te sluit.

Op 10 Januarie het Beves opdrag ontvang om na die sentrale spoorlyn terug te trek en die magte by Van Deventer is na die Unie teruggestuur. Smuts het op 16 Januarie bevel aan genl maj R. Hoskins oorhandig en na Londen vertrek om die Imperiale Konferensie by te woon.

Tydens die derde fase (1917 - 1918) het die veldtog in Duits-Oos-Afrika in 'n guerrilla-stryd ontaard waartydens vrugteloos gepoog is om die ontwykende Von Lettow-Vorbeck tot oorgawe te dwing. Die Duitse bevelvoerder was 'n gedugte vyand wat guerilla-taktiek met hoë mobiliteit uiters effektief aangewend het. Om sake te vererger, het die topografie en ongesonde klimaat hul tol geneem en meer as 12 000 Suid-Afrikaanse soldate wat verskillende tropiese siektes en disenterie opgedoen het, moes huis toe gestuur word. Die Duitse magte in Oos-Afrika het uiteindelik in November 1918 die wapen neergelê teen welke tyd meer as 2 000 Suid-Afrikaanse soldate omgekom het.

Die Sanusi-veldtog (1916)

Gedurende die oorlog is 1 South African Infantry Brigade, bestaande uit vier bataljons, op die been gebring om saam met die Britse magte in Frankryk en Vlaandere te dien. Die Brigade - bestaande uit vier regimente en sowat 5 800 man sterk - het vanaf September 1915 onder die bevel van brig genl H.T. Lukin in Brittanje aangekom om opleiding te ondergaan. Die Brigade is egter in Desember 1915 na Egipte gestuur om die Britse magte aldaar in die verdediging van die Suez-kanaal en die gebied langs die Libiese grens by te staan.

Die Suid-Afrikaanse bataljons het in Januarie 1916 by Alexandrië geland. Op 19 Januarie het die Brigade opdrag ontvang om twee kompanies per see na Mersa Matruh te stuur. Die taak is aan 2 SA Infantry Regiment opgedra wat kort ná 'n uitputtende seereis boonop 'n moordende snelmars deur die woestyn en in gietende reën moes aflê. As deel van genl maj A. Wallace se kolonne, het 2 SA Infantry Regiment op 23 Januarie by Halazin met die Sanusi-magte van Sayyid Ahmed slaags geraak. Ofskoon hulle hewige vyandelike vuur getrek het, het die Suid-Afrikaners verbete teruggeveg. Verliese aan Suid-Afrikaanse kant was egter hoog: sewe het geneuwel terwyl 105 gewond is.

Op 29 Januarie is die Brigadehoofkwartier en 1 South African Infantry Regiment onder brig genl Lukin opdrag gegee om per boot na Mersa Matruh te vertrek waar hulle op 4 Februarie aangekom het. Nadat die Suid-Afrikaanse kontingent verder versterk is, het Lukin se kolonne Mersa Matruh op 20 Februarie verlaat en Angeila twee dae later bereik.

Die volgende dag is die aanmars voortgesit en op 25 Februarie was Lukin se mag in die omgewing van Aqqaqir waar dit met die vyand kontak gemaak het. Die volgende oggend het Lukin die Sanusi-stellings suid van die Kkedivial-hoofweg aangeval. Die vyand is in 'n bloedige veldslag verslaan en verdryf waarna Lukin ongehinderd na Barrani en Salum kon opruk. Die terugtrekkende vyand is uiteindelik by Bir 'Azeiz deur 'n gepantserde kolonne ingehaal en verslaan. Daarmee is die veldtog teen die Turks-Sanusi-magte aan die wesgrens beëindig en voorbereidings is getref vir die Brigade se vertrek na Frankryk, sy oorspronklike bestemming.

Die Wesfront

Die suksesvolle afloop van die veldtog in Egipte het die weg gebaan vir 1 South African Infantry Brigade se ontplooiing in Frankryk. Die Brigade het op 20 April in Marseilles aangekom en sy hoofkwartier by Bailleul ingerig.

As deel van 9 Division, is 1 South African Infantry Brigade op 14 Junie na die Somme-gebied gestuur. Die Divisie is noord van die Sommerivier ontplooi as 'n algemene reserwemag vir XII Corps wat op sy beurt die regterflank van die 4th Army gevorm het. Op 30 Junie het 1 South African Infantry Brigade by Bray stelling ingeneem en op die volgende dag is die Somme-offensief geloods. Aanvanklik is die Brigade hoofsaaklik in reserwe gehou hoewel dit gebruik is om die posisie van XII Corps te konsolideer. Selfs in hierdie beperkte rol het 1 South African Infantry Brigade se ongevalle reeds tot sowat 500 gestyg - 'n goeie aanduiding van wat later in terme van verliese verwag kon word.

Op 13 Julie was die hele Brigade as reserwemag vir 9 Division by Talus saamgetrek, gereed om die divisie se aanslag op Longueval en Delville-bos te ondersteun. In hierdie stadium het 1 South African Infantry Brigade beskik oor 121 offisiere en 3 032 manskappe. 9 Division se verrassingsaanval op 14 Julie het aanvanklik vlot verloop en die vyandelike garnisoen by Longueval is ingeneem. Die Duitse verdedigers het egter gou tot verhaal gekom en verbete teruggeveg toe die Geallieerdes gepoog het om die res van die dorp te beveilig. Teen laat agtermiddag was gedeeltes van Longueval nog onder die vyand se beheer terwyl 9 Division groot verliese gely het. Ten einde die beplande aanval op Delville-bos moontlik te maak, het die Divisie besluit om sy reserwes - 1 South African Infantry Brigade ingesluit - te gebruik.

Op die oggend van 15 Julie 1916 is 1 South African Infantry Brigade ingestuur om die aanval op Delville-bos te ondersteun. Ondanks die ongunstige terreintoestande, het die Brigade daarin geslaag om die grootste gedeelte van die bos in besit te neem. In afwagting van 'n teenaanval het die Brigade hom digby die Duitse loopgrawe ingegrawe. Soos verwag is, het die Duitse magte dan ook 'n reeks teenaanvalle geloods en op 17 Junie het die Slag van Delville-bos 'n hoogtepunt bereik. Die Duitse artillerie het 'n hewige bombardement op die bos afgebring wat langer as sewe uur geduur het. Hierna het nege Duitse infanteriebataljons 1 South African Infantry Brigade se stellings aangeval en die Suid-Afrikaners moes alles in die stryd werp om nie oorrompel te word nie. Toe ammunisie begin opraak het, is die geveg op verskeie plekke met bajonette voortgesit.

Teen die aand van 18 Junie was die situasie in Delville-bos so verwarrend en chaoties dat bevelvoerders aan beide kante beheer oor die geveg verloor het. Klein groepies Suid-Afrikaanse en Duitse soldate was oral in die verwoeste bos in 'n verbete stryd gewikkel. Ofskoon die Suid-Afrikaners algeheel uitgeput was en kwalik die stryd kon voortsit, is hulle nie dadelik afgelos nie. Eers nadat daar ernstige beroepe op die Britse opperbevel gedoen is, is versterkings ingestuur om hulle af te los. Op die aand van 20 Julie 1916 het drie offisiere en 140 ander range die bos verlaat. Die Brigade het ná die bloedige slagting beskik oor slegs 29 offisiere en 751 weerbare manskappe uit 'n totaal van sowat as 4 082 wat tot die slag toegetree het. Altesame 763 is gedurende die slag van Delville-bos dood of het kort daarna aan hul wonde beswyk. Van die oorblywende 2 240 oorlewendes sou nog 510 voor die einde van die oorlog sneuwel. Gedurende die stryd om Delville-bos het die Suid-Afrikaners die uiterste dapperheid aan die dag gelê en een van hulle - wrn W.F. Faulds - het die eerste lid van die Brigade geword om die Victoriakruis te verwerf.

Soos reeds vermeld, het 1 South African Infantry Brigade nou oor slegs sowat 30 offisiere en 750 weerbare soldate beskik en versterkings moes aangevra word. Nadat 40 offisiere en 2 826 manskappe hul by die Brigade gevoeg het, is daar met opleiding en reorganisasie voortgegaan.

Op 23 Augustus was 1 South African Infantry Brigade weer slaggereed en is dit tot vroeg in Oktober in die Vimy-gebied ontplooi. Hierdie gedeelte van die front was in hierdie stadium betreklik stil en die Brigade het feitlik nie aan enige gevegte deelgeneem nie.

Die eenheid is op 9 Oktober 1916 na High wood in die Somme-gebied gestuur om 42 Brigade af te los. Op 12 Oktober is die Brigade weer in die Butte de Warlencourt-gebied as deel van die 4th Army se offensief oor 'n wye front in die stryd gewerp. Die Brigade is getaak om saam met 26 Brigade en 44 Brigade van 5 Division "Snag" en "Tail" (twee Duitse loopgrawe) te verower. Wat 1 South African Infantry Brigade betref, het 2 South African Infantry Regiment die aanval gelei met 4 South African Infantry Regiment wat in diepte gevolg het. Die ander twee bataljons is in reserwe teruggehou.

Tydens die stormloop het 2 South African Infantry Regiment onder hewige vuur gekom en vasgeval. Tydens die gevegte het hierdie regiment swaar verliese gely en 3 South African Infantry Regiment moes as aflosmag ingestuur word. Op 18 Oktober het 1 South African Infantry Regiment weer eens 'n aanslag op "Snag" en "Tail" gedoen en hul pad tot in die Duitse loopgrawe oopgeveg. Die Duitsers het egter 'n teenaanval geloods waarin van selfs vlamwerpers gebruik gemaak is. Die Suid-Afrikaners moes noodgedwonge terugval en 3 South African Infantry Regiment se poging op 19 Oktober om "Snag" in te neem, het ook misluk. Die Brigade, wat tussen 9 en 19 Oktober 1 150 man verloor het, was nou totaal uitgeput en is genadiglik onttrek. Op 21 Oktober 1916 is die Suid-Afrikaners na die Maretzbos gestuur om van waar hul na Arras (Atrect) oorgeplaas is. Hier is die Brigade by die 3rd Army se VI Corps ingedeel. In afwagting van die komende lente-offensief, is die laaste wintermaande aan opleiding en voorbereidings gewy.

Vanaf 9 tot 15 April 1917 was die Brigade in hewige gevegte by Arras betrokke waar dit 'n gedeelte van die front tussen St Pancras en die Scarperivier verdedig het. Die aanslag op die vyandelike "kleurlinies" (Swart-, Blou- Bruin- en Groen-linie) waaraan 1 South African Infantry Brigade deelgeneem het, was suksesvol, maar op 11 April het die Geallieerde aanval momentum verloor. Hierna het 1 South African Infantry Brigade by Fampoux versamel ter voorbereiding van 'n aanval op die vyandelike stelllings by die plaaslike spoorwegstasie. Die aanval is op 12 April geloods met 1 en 2 South African Infantry Regiment aan die spits, ondersteun deur twee kompanies van 4 South African Infantry Regiment. Die aanval het egter misluk en 1 South African Infantry Brigade het meer as 700 man verloor waarna dit tydelik onttrek en met 1 418 vrywilligers aangevul is.

In Julie 1917 het die Brigade na die Somme-gebied teruggekeer vir verdere opleiding en op 27 Julie is dit as deel van 9 Division by IV Corps ingedeel. Op 14 September is die Brigade by Ypres in België ontplooi vir 'n aanval op die Duitse stellings langs die Steenbekespruit, die Ypres-Zonnebeke-pad en die Ypres-Roulers-spoorweglyn. Hierdie aanval het deel gevorm van die derde Slag van Ypres. Die Brigade het op 19 September tot die aanval oorgegaan en ondanks swaar verliese, daarin geslaag om die vyandelike stellings in te neem. Op 22 September is die Brigade onttrek en dit het nie verder aan groot gevegte deelgeneem nie. Op 12 Oktober 1917 is die Brigade weer eens in die stryd gewerp en dit het aan verskeie kleiner gevegte by Moslains en Gouzeancourt deelgeneem voordat die uitgeputte Suid-Afrikaners teen die einde van Januarie 1918 'n maand se ruskans gegee is.

Die Brigade het Februarie aan defensiewe gevegsopleiding gewy omdat 'n groot Duitse offensief in Maart verwag is. In Maart 1918 was 1 South African Infantry Brigade dan ook in die omgewing van Haudicourt ontplooi toe die Duitse offensief geloods is. In die eerste twee dae het die Brigade, wat stellings tussen Marrières-woud en Rancourt verdedig het, meer as 900 man verloor. Op 24 Maart het die Duitsers verskeie aanvalle op die Geallieerde linies gedoen en 1 South African Infantry Brigade is feitlik uitgewis. Sowat 100 man is gevange geneem sodat die Brigade met slegs 450 man as 'n bataljon van drie kompanies hersaamgestel moes word. Formeel het dit egter steeds as 1 South African Infantry Brigade bekend gestaan.

Die hersaamgestelde bataljon is op 26 Maart saam met 26 Brigade in die Geallieerde linie tussen Dernancourt en Albert ontplooi. Hier moes die Suid-Afrikaners weer eens verskeie aanvalle die hoof bied en met die eenheid se onttrekking op die aand van 27 Maart was dit feitlik uitgewis. Daar is dadelik begin met die heropbou van 1 South African Infantry Brigade en vroeg in April het die eenheidsterkte te staan gekom op 139 offisiere en 1 473 ander range. Dit het die Brigade in staat gestel om deel te neem aan verskeie gevegte tydens die Slag van die Lys.

Die Brigade het op 10 April by 'n versamelgebied naby Neuve Eglise aangekom waar dit opdrag gekry het om 'n gedeelte van die Messines-rif tussen Messines en Pick House op die Wytschaete-pad te verower. Ná hewige gevegte is die Brigade op die oggend van 12 April tydelik onttrek, maar op 16 April is dit ingestuur om te help met die ontsetting van Wytschaete. Ofskoon 4 South African Infantry Regiment tot in die dorp kon vorder, is dit deur die Duitsers teruggedryf. Hierna is 1 South African Infantry Brigade tydelik tot 26 Brigade gevoeg totdat dit op 23 April afgelos is.

Die Brigade het swaar verliese gely en moes weer eens as 'n bataljon hersaamgestel word ofskoon die benaming 1 South African Infantry Brigade steeds behou is. Danksy versterkings in die vorm van twee Skotse regimente vanaf Brittanje is die eenheidsterkte tot 59 offisiere en 1 527 ander range opgebou. Die Brigade kon betyds hergroepeer om as deel van 66 Division aan die finale Geallieerde offensief in Frankryk deel te neem. Die Brigade was hoofsaaklik by die gevegte by Reumont en later Le Cateau betrokke. Op Wapenstilstanddag was die Brigade in die mees oostelike posisie van die Britse magte aan die westelike front.

Suid-Afrikaanse infanterie-regimente in Frankryk en Vlaandere het geweldige verliese gely. Van die sowat 20 000 Suid-Afrikaners wat tussen April 1916 en November 1918 aan die Wes-Europese front gedien het, het minstens 14 000 ongevalle geword.

Krygshistorici is geneig om Suid-Afrikaanse grondmagte se deelname aan die oorlog aan die wesfront grotendeels tot die optredes van 1 South African Infantry Brigade te beperk. Die optredes van Suid-Afrikaanse infanterie-regimente in Frankryk en Vlaandere kan haas nie genoeg beklemtoon kan word nie, maar die bydrae van die Suid-Afrikaanse Swaarartillerie aan hierdie front kan insgelyks nie verswyg word nie.

Die South African Heavy Artillery Corps het op 1 Augustus 1915 by Rondebosch tot stand gekom met lt kol J.M. Rose as bevelvoerder. Die Korps is oorspronklik in twee brigades georganiseer, nl 1st Brigade bestaande uit drie batterye en 2nd Brigade met twee batterye. Die twee brigades se 672 man bestaande uit 34 offisiere en 638 ander range het op 28 Augustus 1915 na Engeland vertrek vir opleiding by Cooden Camp (Bexhill). Ná hul aankoms in Engeland, is beslis dat die Suid-Afrikaanse swaarartillerie-batterye in vestingbatterye omskep moes word. Hulle word gevolglik met 6-duim houwitsers toegerus en aan die Royal Garrison Artillery toegwys.

In Maart 1916 is 71, 72 en 75 Siege Battery in die 44th Brigade Royal Garrison Artillery georganiseer terwyl 73, 74 Siege Battery en later ook 125 Siege Battery by die 50th Brigade (RGA) gevoeg is. Vroeg in 1918 is drie bykomende batterye op die been gebring, nl 542, 496 en 552 Siege Battery. Eersgenoemde twee is met hul aankoms in Frankryk egter by die bestaande Suid-Afrikaanse batterye ingedeel terwyl laasgenoemde vanweë die vredesluiting nooit aktief aangewend is nie. Die ses Suid-Afrikaanse vestingsbatterye wat aan die Wesfront geveg het, was dus nie tot 1 South African Infantry Brigade toegevoeg nie en het slegs by enkele geleenthede ondersteuningsvuur aan 1 South African Infantry Brigade gelewer.

Hierdie batterye is tussen 1916 en 1918 as geïntegreerde ondersteuningselemente van Britse gevegsformasies en artilleriegroepe soos die Royal garrison Artillery aangewend. Hulle was dan ook by al die groot veldslae soos onder meer die Somme, Arras, Cambrai , Ypres (Derde Slag) en die Duitse lente-offensief betrokke.

Die besluit in 1917 om die swaar- en beleëringsbatterye in permanente brigades te omskep, het aan die Suid-Afrikaners die geleentheid gegee om oor hul eie brigades met 'n Suid-Afrikaanse identiteit te beskik. In Januarie 1918 kom 44 en 50 SA Heavy Artillery Brigade tot stand. Eersgenoemde brigade het bestaan uit 71, 73 en 125 Battery, terwyl laasgenoemde saamgestel is uit 72, 74 en 75 Battery.

Die ses battery se ongevalle aan die Wesfront het in totaal 329 beloop. Altesame 146 artilleriste het gesneuwel terwyl 183 gewond is.

Die Veldtog in Palestina

Die Suid-Afrikaanse magte het ook deelgeneem aan die Geallieerde veldtog teen die Turke in die Midde-Ooste. Die Geallieerdes se behoefte aan artilleriebatterye het direk gelei tot die samestelling van 'n Suid-Afrikaanse veldartilleriebrigade, die South African Field Artillery.

Hierdie brigade is uit vrywilligereenhede van die Cape Field Artillery, Natal Field Artillery en Transvaal Horse Artillery saamgestel. Die South African Field Artillery, wat oorspronklik uit drie veldbatterye bestaan het, is toegevoeg tot 75 Division, wat vir diens in Palestina bestem was. In Augustus 1917 is die South African Field Artillery na twee batterye met 18-ponder kanonne omgeskakel. 'n Derde battery met houwitsers is in April 1918 bygevoeg.

As deel van 75 Division, het die South African Field Artillery opdrag ontvang om na Jerusalem op te ruk. Die Turkse magte was noord van die aanmarsroete en sowat 5 myl (8 kilometer) van Jerusalem op hoë grond ontplooi. Tydens die opmars kom die South African Field Artillery by 'n bergpas naby Kustil teenoor die Turkse stellings te staan, maar slaag daarin om die vyand te verdryf.

In sy opmars het 75 Division weer by Biddu met die Turkse magte slaags geraak wat op die strategiese hoogte van Nebi Samwill ontplooi was. Omdat toegang tot Jerusalem vanaf Nebi Samwill beheer kon word, het die Geallieerde magte 'n aanval geloods en die hoogte op 21 November 1917 verower. Vir sy aandeel aan die verowering van Nebi Samwill, is 'n kenteken in die vorm van 'n sleutel aan 75 Division toegeken omdat hy die "sleutel tot Jerusalem" verower het.

In Desember 1917 het die South African Field Artillery deelgeneem aan die Geallieerde magte se noordwestelike opmars vanaf Jerusalem. Op 10 Desember 1917 het die South African Field Artillery se A Battery vuursteun aan 'n aanval op die Turkse stellings by Budrus en Hamid verleen. Drie dae later het die Brigade ook vuursteun aan 75 Division verleen tydens 'n suksesvolle aanval op KH Datrah en op 15 Desember was dit ook betrokke by die verowering van die Qibye-rug. Die twee batterye het op 18 Desember onder hewige granaatvuur gekom waartydens 'n observasiepos uitgewis is. Beide batterye kon egter op 20 Desember 52 en 54 Division aktief ondersteun terwyl hulle die Nahr- en Aujarivier oorgesteek het.

Vanweë die felle Palestynse winter wat met swaar reëns gepaard gegaan het, het daar nou 'n onaktiewe fase aangebreek. Dit het die Suid-Afrikaners die geleentheid gegee om die omgewing te verken en voorbereidings vir die komende offensief te tref. Tydens die Geallieerde aanval op 12 Maart 1918, het die South African Field Artillery se A Battery vanaf sy stelling agter die Wadi Ballut vuursteun aan 'n Indiese bataljon gegee.

Tydens hierdie offensief is die Turkse magte na nuwe stellings noordwes van Deir Ballut teruggedwing, maar hier is hulle deur die Dorsets met bajonette uitgedryf. In die Geallieerde aanval wat hierop gevolg het, het die South African Field Artillery effektiewe vuursteun gelewer en verskeie plekke is verower. Hoewel 75 Division se aanval op 9 April deur die Turke afgeslaan is, het A Battery met akkurate vuur die vyand swaar verliese toegedien. Tydens hewige gevegte op 10 April, is die "Three Bushes Hill" verower. Die Turke het egter verwoed teruggeveg en 'n gedeelte van die heuwel herower. Danksy die South African Field Artillery se effektiewe vuur kon die Turke egter nie daarin slaag om die hele heuwel te beset nie. Die Geallieerde magte het nietemin steeds onder groot druk verkeer en moes "Three Bushes Hill" noodgedwonge op 21 April ontruim.

Op hierdie kritieke tydstip het Duitse versterkings in Palestina aangekom wat die vooruitsig van 'n Geallieerde oorwinning 'n knou toegedien het. Die Geallieerde magte se posisie het verder versleg toe 'n groot aantal troepe onttrek en na die front in Frankryk gestuur is. Ten einde versterkings te bekom, het die Geallieerde opperbevel Suid-Afrika genader. Na aanleiding van hierdie dringende versoek, het die Suid-Afrikaanse regering weer eens 1 Battalion Cape Corps (wat met onderskeiding in Duits-Oos-Afrika gedien het) vir diens in Palestina gemobiliseer. Die eenheid het Suid-Afrika nog voor die einde van April in Durban ingeskeep en na Egipte vertrek. Nadat die Bataljon woestynopleiding in Egipte ondergaan het, is dit teen die middel van Julie na front in Palestina gestuur. Hier is dit by 160 Brigade ingedeel wat op sy beurt deel gevorm het van XX Corps se 53 Division.

1 Battalion Cape Corps se kamp was by Rham Alla suidoos van Jerusalem geleë. Die eenheid was egter nie lank hier gestasioneer voordat dit deur 'n vlaag siektes getref is nie. Talle soldate is deur siektes soos disenterie, malaria en Spaanse griep neergetrek en teen Augustus was slegs sowat 340 man geskik vir operasionele diens. Gelukkig is die Bataljon nie gou in die veld gestoot nie en danksy 'n uiterste poging deur die mediese staf, kon die eenheid voor die aanbreek van die winter weer op sterkte gebring word . Kort hierna het die Bataljon opdrag ontvang om deel te neem aan die Geallieerde magte se hoofoffensief in die suide van Palestina.

Onderwyl 1 Battalion Cape Corps besig was met opleiding in Egipte, het die South African Field Artillery hom midde-in 'n verbete oorlog in Palestina bevind. Op 3 Mei het 10 Division Heznah in besit geneem, maar is dieselfde nag teruggedryf. Tydens 10 Division se onttrekking het die South African Field Artillery tot dagbreek die volgende oggend swaar verdedigende vuur op die vyand afgebring. In Mei is 'n gebuite Turkse veldkanon aan A Battery geskenk wat dit gebruik het om die Turkse vesting by Bidieh te bombardeer. Dit het egter 'n hewige teenbombardement op die Britse frontlinie uitgelok en op versoek van die infanterie is die kanon onttrek.

Gedurende Junie en Julie 1918 is die South African Field Artillery in die kusgebied ontplooi. Ter voorbereiding van 'n beplande Geallieerde offensief, is die South African Field Artillery kort hierna aan die front onttrek vir verdere gevegsopleiding. In September was dit weer terug in die kusgebied, gereed om aan die offensief deel te neem. Op 16 September het die South African Field Artillery die groot lemoen- en olyfboomboorde naby Mullebis genader waar die Turkse magte hul stellings gehad het. Hier is die Turke verras en verdryf, wat die Geallieerde magte se posisie in die gebied aansienlik versterk het. Daar kon nou voortgegaan word met die voorbereidings vir die finale offensief wat vir 19 September beplan is.

Intussen het 160 Brigade opdrag ontvang om deur die vyand se hooflinie te breek wat vanaf Wye Hill tot Square Hill en Valley View gestrek het. Op 18 en 19 September het 1 Battalion Cape Corps betrokke geraak in 'n geveg om die besit van Square Hill. Die drie kompanies van die Bataljon het die aanvalsmag gevorm wat die Turkse stelllings op die heuwel bestorm het. Ná 'n verbete geveg het die Suid-Afrikaners daarin geslaag om die vyandelike stellings in te neem en 180 Turke is krygsgevange geneem. Die Turkse magte het egter 'n teenaanval geloods waartydens die Bataljon swaar verliese gely het. Die twee kompanies se offisiere was almal òf dood òf swaar gewond; om die Bataljon van totale uitwissing te red, het die onderoffisiere besluit om hul stellings op die heuwel te ontruim. Die Slag van Square Hill het 'n deurslaggewende rol gespeel in die Britse magte se uiteindelike oorwinning in die gebied en die eenheid is later dan ook vir sy dapper optrede met verskeie dekorasies en 'n gevegsonderskeiding beloon.

Die Britse offensief is deur die artillerie van XX Corps met 'n felle bombardement in die kusgebied geloods. Die Turkse magte het min weerstand gebied, maar by El Tireh moedig teruggeveg. Hier het die South African Field Artillery se akkurate grofgeskut die Geallieerdes weer die oorhand laat kry. Dit het die Geallieerde divisies in staat gestel om deur die Turkse linies te breek. Die Turkse leërs was feitlik omsingel en moes deur 'n smal gaping via Nasaret en Gallileë na Damuskus, Beiroet en Aleppo uitwyk. Teen die einde van Oktober is die Turkse magte in Palestina tot oorgawe gedwing en die South African Field Artillery en 1 Battalion Cape Corps kon onttrek word.
NEC JACTANTIA NEC METU ("zonder woorden, zonder vrees")

Avatar: Francesco Baracca, Italiaanse aas uit Wereldoorlog I

2013:Canadian Citizen’s Memorial Campaign in Sicily.
User avatar
Francesco Baracca
Generaal
Generaal
 
Posts: 254
Joined: 09.2009
Location: Laarne
Gender: Male

Re: Zuid-Afrika in de Eerste Wereldoorlog.

Postby Francesco Baracca » 05 Oct 2009, 20:13

Die Zuidafrikaanse Vliegeniers Korps

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die militêre lugvaart nog in sy kinderskoene gestaan. Op daardie tydstip was daar van 'n eie lugmag vir Suid-Afrika nie sprake nie ofskoon die Verdedigingswet wel vir die stigting van 'n Zuidafrikaanse Vliegeniers Korps (ZAVK) voorsiening gemaak het.

Soos reeds vermeld, het die UVM weliswaar in 1913 'n aanvang gemaak met vliegopleiding by Alexanderfontein. Die Eerste Wêreldoorlog het die gevorderde vliegopleiding van die eerste groep van vyf Suid-Afrikaners by Upavon in Brittanje kortgeknip. Ofskoon hul logboeke aangedui het dat elkeen nouliks meer as 20 vliegure agter die rug gehad het, is hul as bevoeg en gereed vir operasionele diens beskou. Nadat hul toestemming verkry het om as vrywilligers by die RFC aan te sluit, is hulle in twee van die eerste vier eskaders opgeneem wat saamgestel en na die oorlogsfront in Frankryk gestuur is.

Gedurende hierdie kort dienstoer het lt K.R. van der Spuy 'n leidende rol gespeel in die ontwikkeling van lugfotografie in die RFC. Van der Spuy, wat gou tot die slotsom gekom het dat pistole en afgesaagde haelgewere betreklik nuttelose wapens in lugoorlogvoering was, het 'n Lewis-masjiengeweer aan die boonste vlerk van sy tweedekker laat monteer. Sy vindingrykheid, wat sy waarnemer in staat gestel het om doeltreffender vuur op die vyand af te bring, is spoedig deur sy medevlieëniers in die RFC nagevolg.

'n Aantal Suid-Afrikaanse vlieëniers is ingevolge 'n goewermentskennisgewing van 26 Januarie 1915 as offisiere in die Staande Mag aangestel, insluitende kapt G.P. Wallace, lt B.H. Turner, lt K.R. van dr Spuy, lt G.S. Creed en lt E.C. Emmett. Hulle sou voortaan op die "Instruksie en Administratiewe Staf" van die UVM dien.

Hul eerste belangrike taak was om die ZAVK op die been te bring en vir deelname aan die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika toe te rus. In hierdie verband het veral kapt (later maj) G.P. Wallace, bygestaan deur lte B.H. Turner en E.C. Emmett, 'n leidende rol gespeel. Die ZAVK is formeel op 29 Januarie 1915 as 'n "vliegeniers-eenheid van die Aktieve Burgermacht" gestig waarna werwing in die Unie en Brittanje in alle erns begin het.

Die nuutgestigte ZAVK het aanvanklik heelwat probleme ten opsigte van die verkryging van geskikte vliegtuie ondervind. Drie Henri Farman F27 en twee BE 2C vliegtuie het uiteindelik op 30 April 1915 in Walvisbaai aangekom en in Mei is nog drie Henri Farman F27 vliegtuie afgelewer. Die twee BE 2C vliegtuie wat deur vlootvlieëniers van die Britse Admiraliteit gevlieg is, was vanweë hul houtkonstruksie nie teen die strawwe klimaat van Suidwes-Afrika bestand nie. Nog voordat hulle operasioneel aangewend kon word, is albei in afsonderlike voorvalle beskadig.

Daarenteen het die Henri Farman F27 vliegtuie metaalrompe gehad en hulle is met groot welslae deur die ZAVK in 'n verkenningsrol aangewend. Die Suid-Afrikaanse vlieëniers het goed rekenskap van hulself gegee deur gereelde verkenningsvlugte te onderneem en die grondmagte deurentyd op die hoogte te hou van die vyand se bewegings en posisies. Genl Botha was so beïndruk dat hy by die afsluiting van die veldtog die oortuiging uitgespreek het dat die gebruik van vliegtuie merkbaar bygedra het tot die vinnige afhandeling van die veldtog.

Ná die beëindiging van die veldtog in Suidwes-Afrika, moes oor die toekoms van die ZAVK besin word. Die Eerste Wêreldoorlog het egter nog steeds in Europa voortgewoed en op 9 Julie 1915 het die Unieregering aangebied om die volledige ZAVK met sy personeel en toerusting tot die beskikking van die Britse regering te stel.

Op hierdie tydstip was die ZAVK se personeelsterkte 152 man van wie 120 by die korps se lugvaartseksie en 32 by die transportseksie ingedeel was. Die Suid-Afrikaanse regering se aanbod is deur die Imperiale Leërraad aanvaar hoewel sekere probleme ten opsigte van die vergoeding en rangstatus van sommige lede nog uitgestryk moes word. Kort hierna is die ZAVK in Kaapstad gedemobiliseer en sy lede toegelaat om as vrywilligers by die RFC aan te sluit. Hulle sou die kern vorm van 26 SA Squadron (RFC) wat uit Suid-Afrikaners saamgestel is. Ná 'n kort tydperk van reorganisasie en intensiewe opleiding by Netheravon (Salisbury Plain), het 26 SA Squadron op 25 Desember 1915 na Duits-Oos-Afrika vertrek. In Kenia is die Eskader (Esk) aan die Kilimandjaro-gebied toegewys waar hulle met BE 2E en Henri Farman vliegtuie verkenningsvlugte, lugaanvalle en kommunikasievlugte onderneem het ter ondersteuning van genl Smuts se magte.

Die Eskader se taak was egter allesbehalwe maklik. Hulle het te kampe gehad met 'n strawwe tropiese klimaat en 'n ontwykende vyand wat moeilik in die digte woude van Kenia opgespoor kon word. Desondanks het hulle volhard met verkenningsvlugte en, wanneer omstandighede dit toegelaat het, aanvalle op die grondmagte van genl Von Lettow-Vorbeck geloods. In Junie 1918 is die Eskader na Engeland teruggeroep en die volgende maand is dit ontbind.

Afgesien van die Suid-Afrikaners wat in 26 SA Squadron gedien het, het talle Suid-Afrikaners vrywilliglik vir diens by ander RFC eskaders gedurende die verloop van die oorlog aangesluit. Dit was deels te danke aan die werwingsveldtog van maj Allister Miller wat tussen 1916 en 1917 sowat 2 450 Suid-Afrikaners oorreed het om by die RFC aan te sluit. Verskeie Suid-Afrikaanse vlieëniers het in Wes-Europa en elders roem verwerf, onder andere kapt Andrew Weatherby Beauchamp-Proctor wat 38 vyandelike vliegtuie en 16 lugbalonne afgeskiet het.

Beauchamp-Proctor was ongetwyfeld 'n uitsonderlike vlieënier, maar in die geledere van "Miller's Boys" (soos Miller se rekrute bekend gestaan het), was hy geen uitsondering nie. So byvoorbeeld was daar kapteins S.M. Kinkead en C.J. (Boetie) Venter wat onderskeidelik 30 en 22 vyandelike vliegtuie afgeskiet het. In hul geledere was daar ander vlieëniers soos Douglas John Bell met 20 vliegtuie op sy kerfstok en Sir Hugh W. Saunders wat 19 vliegtuie afgeskiet het; lt kol K.R. van der Spuy wat later 'n Geallieerde lugmageenheid in Rusland aangevoer en aldaar deur die Bolsjewiste krygsgevange geneem is; en die alombekende lt kol Helperus Andrias (Pierre) van Ryneveld.

Van Ryneveld, wat oorspronklik as infanteris aangesluit maar in Julie 1915 na die RFC oorgeplaas is, het as vlieënier aan verskillende oorlogfronte gedien, onder meer in Engeland, die Westelike Woestyn (Noord-Afrika), Egipte en Palestina. In 1916 is hy terug na Engeland om bevel oor te neem van No 78 Home Defence Squadron, 'n nageskader wat teen Duitse Gotha bomwerpers opgetree het. Hy sou later 'n leidende rol speel in die stigting van die Suid-Afrikaanse Lugmag.

Vlootvrywilligers

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Suid-Afrika nie oor sy eie vloot beskik nie. Die Koninklike Marine Vrijwilliger Reserwe (SA) is wel op 14 Augustus 1914 gemobiliseer en 12 offisiere en 267 manskappe kon tot die beskikking van die Admiraliteit gestel word. Gedurende die oorlog het egter meer as 400 Suid-Afrikaners in die Britse Vloot gedien. Baie Suid-Afrikaners het omgekom toe die slagkruiser QUEEN MARY tydens die Slag van Jutland in 1916 gekelder is.

Die vlootowerheid in Simonstad het gedurende die oorlog die meeste van die stroomtreilers en walvisbote in Suid-Afrikaanse waters vir die Britse Vloot opgekommandeer. Talle lede van die Koninklike Marine Vrijwilliger Reserwe (SA) het dan ook op hierdie vaartuie gedien. Hulle is aanvanklik as patrollie- en ondersoekbote gebruik, maar nadat die gekamoefleerde Duitse slagskip MOEWE seemyne teenoor Tafelbaai en Kaap Agulhas gelê het, moes 'n aantal as mynveegtreilers omgebou word.

Tydens die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika is die bekende sleepboot LUDWIG WIENER in Tafelbaai opgekommandeer, herdoop tot HMS AFRIKANDER en vir meer as 'n jaar as 'n patrollieboot aangewend.

Die Britse Vloot het Suid-Afrika se bydrae tot die oorlog ter see erken deur Suid-Afrikaanse name aan sommige van sy nuwe skepe toe te ken. Die eerste hiervan was die torpedojaers BOTHA (1915) en SPRINGBOK (1917). Hulle is later gevolg deur die twee ligte kruisers CAPE TOWN (1919) en DURBAN (1919).

Die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens

Die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens (SAGD) was ten tye van die Eerste Wêreldoorlog 'n ondersteuningsdiens van die Leër. Gesondheidsfaktore het egter 'n groot rol in hierdie oorlog gespeel; so byvoorbeeld was die sterftesyfer agv siektes, beserings en mediese komplikasies uiters hoog. Dit spreek dus vanself dat die SAGD 'n belangrike ondersteunende taak vervul het. Derhalwe verdien die aandeel van die mediese komponent afsonderlike toeligting.

Toe Suid-Afrika op 4 Augustus 1914 tot die Eerste Wêreldoorlog toegetree het, het die SAGD - wat slegs 16 maande vantevore gestig is - oor slegs 5 berede brigade-ambulanse, 2 veldambulanse, 'n mediese kompanie, 'n voorradedepot en 'n opleidingsdepot beskik. Die SAGD se ongunstige personeelsituasie het verder versleg as gevolg die onttrekking van 'n groot deel van die Royal Army Medical Corps in Suid-Afrika. 'n Ligpunt in die dilemma van die Direkteur Geneeskundige Diens, kol P.G. Stock, is die feit dat hy oor 'n aantal adjunk-direkteure in die onderskeie militêre distrikte beskik het wat hom kon bystaan. Hy kon ook staatmaak op 'n aantal Staandemaglede by Tempe wat hy kon gebruik totdat sy Burgermageenhede gemobiliseer is. Ter voorbereiding van die mediese ondersteuning van die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika, is die berede brigade-veldambulans in Pretoria op 'n gereedheidsgrondslag geplaas terwyl mediese eenhede gemobiliseer en op sterkte gebring is.

Ondanks die SAGD se probleme, kon die 1ste Berede Brigade Veldambulans en 'n beperkte hospitaaleenheid reeds op 26 Augustus 1914 saam met brig genl H.T. Lukin se invalsmag (Mag A) vanaf Kaapstad na Port Nolloth vertrek. Die mediese kontingent by Port Nolloth is teen die einde van September deur die 9de Berede Brigade Veldambulans versterk. Lt kol G.H. Knapp wat vir die mediese reëlings van Mag verantwoordelik was, het ná sy aankoms in Port Nolloth sy hoofkwartier daar ingerig. Hy het 'n hospitaaltjie geopen om pasiënte tydelik te huisves totdat hulle met die hospitaalskip SS EBANI na Kaapstad afgevoer kon word. Hy het dit verder opgevolg met die oprigting van afvoerhospitale by Aneous, Okiep, Klipfontein en Steinkopf. Die eerste veldambulans onder kapt J. Pratt-Johnson is na Lüderitzbucht gestuur waar dit as die Algemene Hospitaal No 4 georganiseer is.

Wat B Mag betref, het Stock aanvanklik nie soveel aandag aan dié mag se mediese behoeftes geskenk as in die geval van A Mag nie. Hy het nietemin gepoog om 'n berede brigade veldambulans na Upington te stuur waar die mag onder lt kol S.G. Maritz saamgetrek het. Dr J.P. MacGregor is opdrag gegee om 'n offisier en 14 manskappe te werf en na Upington te vertrek. Hierdie poging het egter grootliks skipbreuk gely as gevolg van Maritz se besluit om te rebelleer.

Die veldtog is Duits-Suidwes-Afrika is deur die uitbreek van die Rebellie in die wiele gery. Die afvoerhospitale by Okiep, Klipfontein en Steinkopf het nie aan hul doel beantwoord nie en is later in tydelike mediese depots omskep. Die onderdrukking van die Rebellie en die hervatting van die offensief in Duits-Suidwes-Afrika in 1915 het vir die mediese kontingente opnuut probleme meegebring. Die Suid-Afrikaanse invalsmagte het so vinnig opgeruk dat die mediese elemente nouliks kon byhou. Die swak paaie en lang afstande tussen dorpe het die afvoer van ongevalle ook bemoeilik. Gevolglik moes die veldambulanse soms noodgedwonge agterbly om veldhospitale te beman totdat die pasiënte afgevoer is.

In 'n poging om die mediese organisasie gedurende die laaste fase van die veldtog op te knap, het Stock hom by genl Botha se Noordelike Mag gevoeg. Die tempo waarteen die spoorlyn vanaf Swakopmund na Windhoek gebou is, het die afvoer van ongevalle per trein vergemaklik. Die hospitaal by Karibib het weldra in 'n belangrike mediese sentrum ontwikkel van waar pasiënte na Swakopmund afgevoer kon word.

Ná die Duitse oorgawe in Junie 1915, is die grootste gedeelte van die mediese kontingent aan Suidwes-Afrika onttrek. 'n Klein element het agtergebly om na die besettingsmag om te sien en teen die middel van Augustus 1915 is die laaste pasiënte na Kaapstad afgevoer.

Ná die beëindiging van die veldtog in Suidwes-Afrika, het die SAGD voor nuwe uitdagings te staan gekom, nl die veldtog in Duits-Oos-Afrika en die oorlog in Europa. Hoewel die SAGD oorspronklik net geneeskundige steun aan die front in Europa sou lewer, is later besluit om ook 'n mediese kontingent na Duits-Oos-Afrika te stuur. Hierdie kontingent het bestaan uit 'n algemene hospitaal, drie veldambulanse, vyf berede brigade veldambulanse, twee sanitêre seksies, twee kompanies Indiër-draagbaardraers, 'n tandheelkundige seksie en 'n voorraaddepot.

Die ongesonde klimaat van Oos-Afrika was vir die Geallieerde magte selfs 'n groter vyand as die Duitse magte onder Von Lettow-Vorbeck. Die tol wat siektes soos bosluiskoors, malaria, disenterie en swartwaterkoors onder die Geallieerde troepe geëis het, sou genl Smuts tereg laat opmerk: "It became more and more a campaign against climate, geographical conditions and disease."

Die South African General Hospital is by Kedongal ingerig. 'n Assistent-direkteur mediese dienste is tot elke divisie toegevoeg om mediese reëlings vlot te laat verloop. Veldambulanse moes in hospitale omskep word terwyl 'n groot aantal ongevalle deur die ambulansskepe SS EBANI, VITA en PROFESSOR WOERMAN afgevoer is.

Die aantal ongevalle wat vanaf die front in Oos-Afrika afgevoer is, het dermate toegeneem dat selfs die hospitale in die Unie nie meer al die pasiënte kon huisves nie. Teen September 1917 was die situasie so kritiek dat hut- en tenthospitale opgerig moes word. Voorts is 'n basishospitaal, No 5 Algemene Hospitaal, vir die Kaapse Korps opgerig terwyl 'n groot herstelkamp by Kimberley gebou is. Terselfdertyd is hospitaalfasiliteite in Durban uitgebrei en Tempe en Robertshoogte is gebruik om die oorvloei van pasiënte vanaf Durban en Kaapstad te huisves. In een stadium is soldate selfs tuis deur hul naasbestaandes versorg, maar hierdie reëling was nie geslaagd nie en moes gestaak word. Die uitbreek van die griepepidemie in 1918 het die SAGD se taak in die Unie nog verder bemoeilik. Die epidemie is eers in September 1918 onder beheer gebring waarna die SAGD kon voortgaan om hom uitsluitlik op Oos-Afrika en Europa toe te spits.

Wat die front in Europa betref, is 1 South African Field Ambulance in Augustus 1915 op Potchefstroom gemobiliseer. Saam met 1 South African General Hospital het dit die mediese kontingent uitgemaak wat teen die begin van November by Twezeldown in Brittanje vir hul opleiding aangekom het. Die personeel van 1 South African General Hospital is aanvanklik by verskeie imperiale hospitale ingedeel, maar op 20 Desember 1915 is die eenheid by Bournemouth herenig met die opdrag om die Mont Dore Hospital daar oor te neem. Een afdeling van 1 South African General Hospital is met die voltooiing van 'n bykomende Suid-Afrikaanse hospitaal by Richmond Park in Junie 1916 na Frankryk verskuif.

Vroeg in 1917 is opdrag gegee dat 1 South African General Hospital in Frankryk se bedkapasiteit van 520 tot 1 120 opgestoot word. Die hospitaalpersoneel het hutte wat hiervoor benodig was, self opgerig. Namate die oorlog gevorder het, het die gevegsfront verder van 1 South African General Hospital (Frankryk) weggeskuif. Die hospitaal het desondanks bedrywig gebly en die mediese staf het hul veral in die behandeling van beenbreuke onderskei. Die tegniek wat hier gebruik was, is later deur die mediese korps van die Britse Leër oorgeneem.

Gedurende die oorlog het die afdeling van 1 South African General Hospital in Brittanje hom ook onderskei. Hierdie afdeling het 'n waardevolle ondersteuningsdiens gelewer by die South African Military Hospital te Richmond Park. Op 1 Julie 1918 het die Richmond Military Hospital en die South African Military Hospital aldaar saamgesmelt onder laasgenoemde se naam.

1 South African Field Ambulance het feitlik ononderbroke aan die gevegsfront in Europa gedien. Die eenheid is egter nie dadelik na Europa nie, want in Desember 1915 het dit na Egipte vertrek om mediese steun aan 1 South African Infantry Brigade te verleen. Die veldambulans het 1 South African Infantry Brigade egter nie na die front vergesel nie en het tydens hul verblyf in Egipte voortgegaan met opleiding. In April 1916 is 1 South African Field Ambulance na Frankryk gestuur en in Junie daardie jaar het dit die versorging van 1 South African Infantry Brigade oorgeneem.

Gedurende die hele Somme-offensief het 1 South African Field Ambulance se seksies hul taak in moeilike, senutergende en dikwels lewensgevaarlike omstandighede verrig. Op 19 Julie 1916 is 1 South African Field Ambulance aan die Somme-front onttrek en vir 'n kort rusperiode na die Frevillers-area gestuur. Dit het in Augustus saam met 1 South African Infantry Brigade na Vimy-rif verskuif en 'n divisie-oord by Caucort ingerig. Die res van die eenheid was by die Estree Caughie-hospitaal saamgetrek. In September is dit na die Somme teruggestuur en die ambulanshoofkwartier is by Lavieville ingerig. Teen die einde van Oktober het 1 South African Field Ambulance na Maizieres vertrek, maar vroeg in Desember is dit na Arras gestuur om voor te berei vir die Geallieerde lente-offensief van 1917.

Die Geallieerde offensief wat op 9 April 1917 van stapel gestuur is, het so snel verloop dat die insamelpunt spoedig verder as 5 kilometer van die regimentshulpppos was. Die lang afstande, sneeu en reën het die Ambulans se taak bemoeilik en veral die verbandplek by Anzin was besonder bedrywig - in die eerste 24 uur is 1 246 gewondes behandel. Tussen 19 April en 12 September 1916 is die Veldambulans verskeie kere verskuif en dit moes mediese steun lewer by onder meer Arras (die hoofkwartier), la Thieuloye en Hautes Avesnes.

Op 12 September is 1 South African Field Ambulance na Vlammerthinge aan die front by Ypres verskuif. Die Suid-Afrikaanse brigade se ongevalle aan die front by Ypres was hoog: 263 het gesneuwel terwyl 995 gewond of vermis is. Die Suid-Afrikaanse veldambulans is tot die uiterste beproef want veldverpleging en die afvoer van verliese moes deurentyd onder hewige artillerie-vuur gedoen word. Talle mediese offisiere en baardraers is gewond of gedood, maar desondanks het die Veldambulans hom goed van sy taak gekwyt.

Op 1 Desember 1917 is 1 South African Field Ambulance na Gouzeaucourt gestuur. Die snelle opeenvolging van aanvalle en teenaanvalle het algehele chaos veroorsaak wat die taak van die eenheid aansienlik bemoeilik het. Baardraers moes byvoorbeeld self die skuilings vir gewondes by die hoofverbandplek te Queen's Cross oprig. Baie pasiënte wat die slagoffers van gasaanvalle was, moes behandel word.

Ná 'n kort verposing by Suzanne op die oewer van die Somme waar roetine geneeskundige dienste by 'n tydelike hospitaal gelewer is, was 1 South African Field Ambulance weer op 1 Maart 1918 terug aan die front. Op 21 Maart het die Duitse magte tot die aanval oorgegaan en in die volgende week moes die Geallieerde magte oor 'n wye front terugval. Vir 'n tweede maal is 1 South African Infantry Brigade feitlik uitgewis en sowat 100 man is op 26 Maart by Marrieres krygsgevange geneem. Die geneeskundige personeel wat aan die brigade verbonde was, is insgelyks gevange geneem. Die res van 1 South African Field Ambulance het op 31 Maart tot by Raineville en Bonneville terugbeweeg, maar op 2 April 1918 het dit saam met die nuut saamgestelde 1 South African Infantry Brigade na België vertrek.

In België het die veldambulans sy hoofkwartier by Voormezeele ingerig. Die Duitse magte het op 9 April opnuut tot die aanval oorgegaan en 1 South African Field Ambulance moes na Remy verskuif waar dit tot 29 April in 'n leë afvoerhospitaal gehuisves was. Op 30 April is die eenheid na Trapestes naby Waton en op 1 Mei het dit 'n divisierusoord by Bandaghem geopen. In die somermaande was 1 South African Field Ambulance betreklik onaktief. Dit het egter vanaf 27 September tot 11 November (toe vyandelikhede gestaak is) by Serain mediese steun verleen aan 1 South African Infantry Brigade tydens die finale Geallieerde aanval op die Siegfried-lyn.

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het mediese kontingente van die SAGD onder uiters moeilike toestande in Suidwes-Afrika, Oos-Afrika, Frankryk en Vlaandere (België) hul goed van hul taak gekwyt en verskeie lede is met medaljes beloon.

Nie-gevegselemente

Die geneeskundige ondersteuningseenhede was nie die enigste nie-gevegselement van Suid-Afrikaanse eenhede wat aan die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem het nie. Benewens die mediese komponent, was daar ook die arbeidsbataljons, die sogenaamde "non-combatants". Hierdie werkspanne in uniform het die lewensnoodsaaklike logistieke infrastruktuur vir die imperiale oorlogsmasjien voorsien. In hierdie opsig het die Suid-Afrikaanse arbeidsbataljons, wat deur I.R. Gleeson tereg as "the unknown force" bestempel is, 'n belangrike bydrae gelewer.

Die aanwending van nie-blanke Suid-Afrikaners in die Eerste Wêreldoorlog was in sigself 'n omstrede kwessie, en het dan ook tot politieke dispute gelei. Besluite wat die Suid-Afrikaanse regering in hierdie verband geneem het, was eweneens omstrede. Toe die South African Native National Congress en ander instansies in 1914 hul steun vir Suid-Afrika se oorlogspoging aangebied het, is dit van die hand gewys.

Die Suid-Afrikaanse regering het egter geen gewetenswroeging gehad oor die aanwending van Nie-Blankes in 'n nie-strydende hoedanigheid nie. Soos terstond aangedui sal word, het meer as 190 000 Nie-Blankes gedurende die oorlog gedien, al was dit grotendeels in 'n nie-gevegsrol. Boonop het die Suid-Afrikaanse regering sy oorspronklike besluit om Nie-Blankes nie in 'n gevegsrol aan te wend nie, ook nie konsekwent toegepas nie - in die loop van die oorlog het infanteriebataljons van die Kaapse Korps aktief aan die front in Duits-Oos-Afrika en Europa gedien.

Gedurende die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika het ongeveer 33 500 Nie-Blankes in die Suid-Afrikaanse ekspedisiemag gedien. Die grootste gedeelte van hierdie komponent was swart lede van die South African Native Labour Corps wat inderhaas met die hulp van die Departement van Naturellesake op die been gebring is. Hulle is hoofsaaklik as wadrywers, touleiers of in 'n logistieke rol aangewend.

Die South African Native Labour Corps was ook die grootste voedingsbron vir die arbeidsmag van 15 000 in Duits-Oos-Afrika. 'n Groot aantal is aangewend as drywers en touleiers; hulle moes ook die trekdiere versorg en omsien na hul vervoer na die voorbasisse. Sommige is aangewend vir die lê en instandhouding van spoorlyne terwyl ander by hawens as dokwerkers werksaam was.

Bataljons van die South African Native Labour Contingent (SANLC) en kompanies van die Cape Corps Labour Battalion het gedurende die oorlog aan die front in Frankryk en Vlaandere gedien. Die oprigting van hierdie arbeidsbataljons het voortgespruit uit 'n versoek wat van Brittanje ontvang is. Die beskikbaarstelling van nie-blanke arbeiders vir die front in Frankryk was onderhewig aan bepaalde voorwaardes: hulle moes in 'n nie-gevegshoedanigheid en onder die toesig van blanke offisiere aangewend word.

Wat die SANLC betref, is oorspronklik vir vyf swart bataljons van 2 000 man elk voorsiening gemaak, dog as gevolg van 'n toenemende behoefte is sowat 25 000 gewerf. Hiervan is 20 887 swart lede in verskillende rolle aangewend, onder andere as pad- en spoorlynwerkers, dokwerkers en houtkappers.

Die eerste vier bataljons het reeds voor die einde van 1916 na Frankryk vertrek, gevolg deur die 5de Bataljon vroeg in 1917. Laasgenoemde bataljon se reis na die front in Frankryk het egter rampspoedig verloop. Op die nag van 21 Februarie 1917 sterf 616 lede toe hul skip, die SS MENDI, ná 'n botsing in die Engelse kanaal sink.

Sowat 2 000 lede van die Cape Corps Labour Battalion is by die British Army Service Corps in Frankryk ingedeel. Hulle is hoofsaaklik in hawestede soos Rouen en Le Havre aangewend en het dieselfde take as ander arbeidsbataljons verrig. Die Cape Corps Labour Battalion se kompanies het hul so goed van hul taak gekwyt dat hul eers in Julie 1919 na die Unie teruggestuur is.

Gedurende die oorlog het sowat 3 500 lede van die Cape Auxiliary Horse Transport Unit in Frankryk en Vlaandere gedien. Hierdie lede was almal bedrewe in die hantering van bespanne voertuie en is hoofsaaklik gebruik as drywers en touleiers. Hulle was veral verantwoordelik vir die vervoer van voorrade vanaf hawens na depots en spoorkoppe.

Statistiek

Altesaam 254 666 Suid-Afrikaners van alle rassegroepe het gedurende die Eerste Wêreldoorlog in uniform gedien, te wete 146 897 Blankes, 25 000 Kleurlinge/Indiërs en 82 769 Swartes. Hiervan het 8 325 Blankes, 893 Kleurlinge/Indiërs en 3 136 Swartes in gevegte of in die uitvoering van hul pligte gesneuwel.
NEC JACTANTIA NEC METU ("zonder woorden, zonder vrees")

Avatar: Francesco Baracca, Italiaanse aas uit Wereldoorlog I

2013:Canadian Citizen’s Memorial Campaign in Sicily.
User avatar
Francesco Baracca
Generaal
Generaal
 
Posts: 254
Joined: 09.2009
Location: Laarne
Gender: Male


Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron